Monday, 29 October 2012

Weer een van daai dae...


Gister was een van daai dae. ‘n Dag wat van die oomblik dat ek my oë oopgemaak het, onheil voorspel. Ja, ek het ‘n “mood” gehad! Lus om my stem te laat hoor en my misnoë met alles en almal uit te spreek. Elizma en die kinders moes bont staan om my nie verkeerd op te vryf nie. So-by-so dat ek te skaam was om dit aan God te noem as my dag se swakheid. Steeds dink ek Hy gaan kwaad wees. Maar ek vergeet hoe baie Hy al my lewe tot ’n halt geroep het en my net in ‘n ander rigting gedraai het. Ek loop soos ‘n leeu met ‘n seer onderstel rond en soek ‘n stil plekkie. Net 5 minute in gesprek met Hom en ek weet ek sal okay wees. Ek glip gou by die spaar kamer in, en maak die deur toe en sak op my knieë. Twee minute, toe’s als verby. Ek weet die challenges gaan my klaar maak vandag (en dit het!) maar ek het ‘n snaakse rustigheid daaroor wat beter geraak het soos die dag verloop.

Vroe-oggend gesels ek met tannie Koegelenberg by die apteek se deur. Haar hele manier straal mos rus-en-vrede uit. Sy het by my deur verby gestap op die oomblik  toe ek dink ek gaan dit dalk nou verloor. Die 2 minute geselsie was al wat ek nodig gehad het om my te laat dink, “chill, jou dinge is nie so erg nie”. Deur die loop van die oggend sien ek dat ek nog ál die psigiatriese medisyne van ‘n klompie pasiente  in ‘n klein nedersetting, naby Moerlandspan, moet verpak. Hoe is dit moontlik dat enige iemand wat dáár bly OOIT psigiatriese afwykings kan hê? Dis dan so mooi daar, tussen al die granietklippe, so rustig?  Ek raak sommer weer opstandig, want hoe gaan ek nou al hierdie goed gedoen kry voor ek moet waai? My telefoon maak ‘n email geluid! Dis ‘n boodskap  van Pierre. ‘n Soldaat in Irak, ‘n peacekeeper en ‘n man met ‘n hart vir God. Sy boodskap noop my om terug te skryf en weereens, in 2 minute se tyd, net in een laaste sinnetjie, eer aan ons Koning te bring. Vir die tweede keer vandag herhinder Hy my weer deur mense naby aan my – kom net weer terug hier waar jy was, hier by My! Gee My net gou weer erkenning en Ek stuur jou voort.

Saal A het middels aangevra wat slegs onder streng toesig mag uitgereik word. Ek sal dit seker vir hulle moet vat en ai, daar is dan hoeka nie tyd nie. Ek loop toe maar met die parceltjie soontoe. Hulle het sopas ‘n pasiënt gekry wat so geweldadig en van sy trollie af  is dat die polisie gesukkel het om hom vas te hou vir sy kalmeer inspuiting. Hy moet nou in ‘n spesiale reinforced kamer toegemaak word  waar hy eers moet afkoel. Dis een van daai kamers waar die vensters dikker as die Bank s’n is. Maar selfs met die inspuiting klaar in sy agterent, skop hy die deur amper uit sy skarniere uit. Die werkswinkel se manne daag gou daar op en sit hout balke voor die deur om hom net binne te hou sodat hy nie die ander pasiënte en die personeel kan verniel nie. Nou moet die vroue suster, volgens wet, elke sekere hoeveelheid minute sy observasies, soos sy bloeddruk ens. doen en ek dink – dis mos malligheid? Dis mos nie ‘n vrou se werk nie?  Enter – die matrone van die Hospitaal. John. Ja hy is ‘n man en nee, alle matrones is nie vrouens nie. John en ek relate altyd lekker met ons gekrokte knieë. John is ‘n kickboxer en ‘n goeie een daarby! Hy bied aan dat hy eerder by die willeman sal ingaan  en sy observasies sal doen. Ek dog, hier moet ek bly, want hier kom ‘n ding.

John haal die houtbalke voor die deur weg en stap rustig die “strongroom” binne. Ek dink so by myselwers, “willeman – jy moet maar jou wildgheid laat staan want hier word jy gefloor vandag”. John se aksies en woorde daarna sal ek nooit vergeet nie: “Is jy okay meneer? Bring die sleutels, die man is dan nog geboei, ‘n mens kan nie so geboei sit en eet nie. Bring sy kos. Is jy honger meneer? Kom, ek gee solank vir jou kos” en hy begin die willeman te voer soos ‘n baba met ‘n lepel. Die sleutel arriveer en hy sê in ‘n sagte kalmerende stem: “ Ek gaan jou nou losmaak, onthou asb dat ek nie ‘n vrou is nie, so raak nou rustig anders sal ek jou  ongelukkig weer moet vas maak. Verstaan jy wat ek vir jou sê meneer?” Willeman sit en kou sy kos, so mak soos ‘n lammetjie. Ek draai om en in plaas van om teleurgesteld te wees omdat ek nie ‘n bietjie action gesien het nie, is ek verstom. Verstom oor hoe selfs die wildste en heel moontlik besete mens, met kalmerende woorde rustig kan raak. Baie dinge kom in my gedagtes op. Dinge soos hoekom het ek die geweldadige uitkoms hier as die eerste manier van optrede gesien? Is dit dan ‘n man-ding? Wat sou gebeur het as John in daai “strongroom” in gestap het met ‘n mucho-houding en bietjie sy kickboxing geoefen het? Selfs as iemand as jou vyand voorkom kan die teenoorgestelde benadering vir almal soveel meer beteken. Niemand het hier seer gekry vandag nie. Die vroue susters voel veilig én die hospitaal se infrastruktuur oorleef nog ‘n dag! Dit alles deur ‘n man wat gekies het om ‘n situasie op ‘n kalm manier te hanteer sonder om sy manlikheid voor die saal vol susters en nurses te bewys. Daar bestaan geen twyfel by my dat John hierdie willeman sou kon “beheer” as dit moet nie, maar hy het nie. Dis so asof hy seker was dat sy “beskermings meganisme” of secret weapon,  binne in hom altyd daar is vir ‘n noodgeval maar dat dit ook die laaste uitweg sal wees. Well done John! Jy het Spreuke 15:1 vandag in lewende wyse gedemonstreer!!

Dis net na 12hoo en nou moet ek wikkel. Ek moet nou by die kliniek uitkom om my regte werk ook darrem op datum te hou. Om by die hospitaal af te los en my eie werk in te pas, kos nogal balans! Ek spoed voort en skarrel om alles te onthou. As my pen nou val is ek in my glory in laat. Ek haat so ‘n gejaag. Marlene, die sonograaf stap verby en noem sommer net dat sy gesien het ek was by ‘n mannekamp en dat dit baie lekker gelyk het. Sy het dadelik my aandag en om een of ander rede is tyd nie nou meer belangrik nie. Ek vra: “ Hoekom vra jy?” Sy begin vertel van haar man se Mighty Men Ondervinding ‘n paar jaar terug. En daar gesels ons te lekker. Sy loop daar weg met my wat belowe om haar te sê wanneer Harvester  weer ‘n Mannekamp hou sodat haar man kan saamgaan!

Namiddag na werk, is dit warm. Lekker Vredendal-warm. Ek stop by Marinda om die tweeling op te laai en omdat ek tyd het lê ek vir die eerste keer in baie jare weer op my rug op die gras. Sy het seker van die mooiste grasperke wat ek ken. Die kinders dink natuurlik dis “open season” en beklim my omtrent. Selfs Kadri se buletjie, Dirk, is bo-oor my. Kan dit nie maar elke middag so wees nie? Ek dink hoe blessed ek is om te kan doen wat ek nou doen en die hoeveelheid geluk in my hart kan nie gemeet word nie. Ja, dis uiteindelik somer en dis seker die eerste dag in die nuwe seisoen wat ek dit goed dink om bietjie lyf nat te maak in die swembad sodra ons by die huis kom. Dié dat Carla amper nie kon glo toe ek haar vra of sy nie dalk wil swem nie. Hierdie hele winter moes sy net hoor hoe koud die water is en hoe koud dit buite is terwyl sy so graag wou swem. Selfs  Issabella en HW is in die water terwyl ek nie regtig  genoeg moed bymekaar kon maak vir die kouete nie. Ek is verlief op somer. Ek dink - vannáánd gaan ek braai en terugsit en die stiltes van Vanrhynsdorp geniet. Die vlamme vertel weer die dag se gebeure... Ek is vandag goed gecoach. Deur vier verskillende mense wat niks met mekaar te doen het nie. Ek was gewys dat selfs al drift ek weg, dat God ‘n onverklaarbare manier het om Sy grace te laat val, op  tye wat jy gedink het dis onmoontlik om ooit genade te ontvang. Dan, tydens daardie oomblike van onbegryplike grace, kan jy nie anders as om saam te praat en te erken wie REGTIG in beheer is, en te erken dat Hy ‘n awesome God is nie!  


No comments:

Post a Comment