Ek moes eenmaal luister na iemand wat
twyfel aan sy liefde vir sy vrou. “Ek is nie seker of ek my vrou liefhet soos
wat die bybel sê ek moet nie” was sy woorde. Hy het na my gekyk vir raad maar
my antwoord hierop het my bietjie laat dink.
Daardie dag toe ek my vrou gekies het was
dit nie op grond van die fisieke nie maar op grond van die feit dat ek geglo het
dat God gesê het sy is die een. Ek het oor my verhouding met haar gebid en
gevra wat ek moet doen. Ek was onseker. Daar was duidelike redes om my te laat
terug deins veral omdat ek straks uit ‘n egskeiding gestap het en myself belowe
het NOOIT weer ‘n huwelik nie. Ek het my fair share van die huwelik gehad. My
drome oor kinders sal dan maar ook nou eers moet bly. Heel anti-huwelik! Maar
my antwoord was duidelik – “sy IS die een!”
Sover my gebrekkige woord of bybel kennis
strek beskryf God se woord presies hoe ‘n man sy vrou moet lief hê. In Efesiërs
5 staan dit duidelik dat ‘n man sy vrou moet lief hê soos wat Christus die kerk
lief gehad het en dan ook so lief soos wat hy sy eie liggaam het. Ook gee die
woord ‘n duidelike beskrywing van hoe liefde is. In 1 Kor 13 word daar mooi
beskryf watter eienskappe die liefde het.
Maar nou weet ek ook dat toe die bybel geskryf
is het die grieke die woord “liefde” in ‘n besonderse manier gebruik het. Daar
is nie minder nie as 4 verskillende tipes liefde wat in die griekse taal
onderskei word. So wanneer ‘n mens oor liefde in die bybel lees moet jy eintlik
baie mooi gaan seker maak van watter liefde hier gepraat word. In Afrikaans en
Engels is liefde gelyk aan liefde. Maar in grieks is dit ‘n heel ander storie.
Daar is vier woorde wat in grieks gebruik
word om liefde te vertaal en kan
as volg uiteen gesit word:
- Phillia liefde - Liefde tussen familie, broederlike liefde, liefde vir “close” vriende
- Eros Liefde - Intieme of romantiese en seksuele liefde tussen 2 mense aangetrokke tot mekaar
- Storge Liefde - Liefde “affection” of “fondness”
- Agape - Goddelike “selfless” liefde
Ek wonder nou al geruime tyd oor wat die
bybel sê oor “eros liefde”. Noem, beskryf en maan die bybel oor hierdie tipe
liefde waarmee jy jou vrou (en niemand anders nie) moet liefhê? Na ‘n internet
soektog het ek nogal ‘n hele paar interessante feite teë gekom (of dit alles
waar is weet mens mos nie aldag nie). Onder andere dat die bybel geensins
melding maak van “eros” liefde nie. Die boek Hooglied beskryf duidelik die
liefde wat soos “eros liefde” klink maar
dit noem dit nooit só nie, ook sê dit nie “dis hoe man en vrou mekaar behoort
lief te hê nie”.
Wat my nogal onkant betrap het en interessant
is, is dat Eros, ‘n god uit die griekse mitologie was. Hy was die seun van
Afrodite (godin van liefde) en Ares (god van oorlog). My vraag is nou: Kan die benoeming en
koppeling van “eros” aan die liefde waarvan ons in die bybel lees, reg wees?
Dit laat my wonder of eros hoegenaamd ‘n plek het as dit by die bybelse
beskrywing van ‘n huwelik en die liefde tussen man en vrou kom? As dit nêrens
in die Woord opgeteken is of genoem word nie maak dit my senuweeagtig. Kan dit wees dat “eros”
liefde bloot uit die grieke se wellustige en beheptheid met die seksuele
ontstaan het? Kan
dit wees dat dit (eros liefde) nie
oorspronklik enige plek in die geskiedenis van menswees het nie? God het vir
die man ‘n helper gemaak wat hom moet help om onder andere te vermenigvuldig.
En die man moet vir hierdie helper lief wees. Maar hoe? Hoe moet ek as man my
helper liefhê?
So
lief soos Christus die kerk lief het
Volgens Efesiërs 5:25 moet mans hulle
vrouens liefhê soos Christus die kerk lief gehad het! Wat beteken dit? Dit
beteken tog nie Christus smag op ‘n eros manier na die kerk nie of na ons wat
die kerk is nie? Dat dit ‘n agape en phillia tipe liefde is waarmee hy die kerk
liefhet maak mos meer sin. So as Paulus sê dat die mans hulle vroue soos in
Efesiërs 5:25 moet liefhê is dit mos met ‘n phillia en agape liefde?
So
lief soos vir jou eie liggaam.
Paulus sê in Efesiërs 5:28 dat jy jou vrou
moet liefhê soos jou eie liggaam. Dit beteken vir my die volgende: As ek my eie
liggaam liefhet, is dit nie met ‘n eros liefde nie. (Dit sou ‘n klompie nare
dinge impliseer…) Om my liggaam lief te hê, is
om die “vessel” wat my gees in hierdie wêreld huisves, ten alle koste te
beskerm. So die “body” of ‘entity” wat my gees gebruik om in te bly, moet ‘n
geskikte en perfekte plek wees om die gees te transport. Ja mens kan seker sonder ‘n liggaam
klaar kom maar nie in hierdie wêreld nie. In die geestes realm ja. (Tensy jy
natuurlik een van hiedie astrale projeksie toertjies kan doen en ‘n ewigheid daarmee volhou).
So my liggaam is van kardinale belang om my
wedergebore gees of nie-wedergebore gees te dra deur die wêreld tot die dood.
Ek sal ten alle koste dus probeer om my liggaam te beskerm en op te pas om so
dus my gees se blyplek te beskerm. Die “veg of vlug reaksie” wat te sien is
tydens ‘n noodtoestand waar ‘n mens of sal veg of sal vlug om sy lewe te
beskerm of dan, sy gees se “body” aan die lewe te hou! Jy het natuurlik ook die
keuse om NIE na jou liggaam te kyk nie. Wanneer jy jou liggaam doelbewus skade
aan doen soos om dit af te skeep en te rook en dit met alkohol te verdrink stel
jy dus jou eie gees bloot aan die moontlikheid om sy huis te verloor agv bv. ‘n
ongeluk of siekte. (Is dit nie waar die gesegde “Gesonde liggaam huisves ‘n
gesonde gees” vandaan kom nie?)
Onthou nou dat die woord sê jy en jou vrou
sal EEN word. So jóú liggaam is haar liggaam en haar liggaam is joune! Só, om
na jóú eie liggaam te kyk en dit te beskerm en te vertroetel, is om altemit na
haar liggaam ook te kyk en op te pas - dus het jy haar so lief soos jou eie
liggaam.
Waar
kom “eros” dan in die prentjie?
My enigste verklaring vir waar “eros’ dan
vandaan kom is dat wanneer ek my vrou op so ‘n manier lief het soos hier bo
beskryf staan, kan
dit amper nie anders as om “eros” voort te bring nie. Die probleem wat ek egter
hiermee het is dat Jesus NIE “eros” liefde gevoel het vir Sy kerk en for that
matter vir enige ander mens nie. As Hy sou – is dit elkgeval nie opgeteken nie!
Ek wil om hemels naam NIE die belangrikheid
van “eros” liefde wegmaak nie. Behoed my! Maar my boodskap aan jongmense is dat
“eros” liefde, heel laaste op die lys moet staan wanneer jy na ‘n vrou kyk om
oor die drumpel te dra! As ons dit hou soos die bybel dit voorskryf moet ons
baie mooi gaan kyk hoe ons ons vrouens moet liefhê. Eros liefde vervaag oor die
jare en soos jou liggaam oud word, terwyl die ander tipes liefde gewoonlik meer
intens raak. Mits dit natuurlik WARE liefde is. Indien hierdie ware liefde nie
meer intens raak en groei nie, kan
jy maar seker wees dat die verhouding op die verkeerde liefde nl. “eros”, gebou
is en NIE die liefde wat jou ‘n ewigheid hou nie!
So my vraag is: Kom “eros” liefde werklik van
God af of is dit die term wat gebruik word vir iets wat sy kop uitgesteek het
na die sondeval? Is dit nie dalk ook een van die dinge wat die mens reggekry
het om heeltemal te verdraai en te mismaak nie? Ek wonder baie hoekom het Adam
en Eva nou eintlik skaam geword oor hulle naaktheid na die sondeval? Het dit
nie dalk iets hiermee te doen nie? Die liefde wat aan hulle voorgehou was deur
satan, was toe nie die “devine love” nie, dit was toe al die tyd “eros love”…
My laaste vraag: Hoekom is dit juis “eros
liefde” wat veroorsaak dat so baie huwelike tot niet gaan? Dink gou mooi
daaroor, as iemand binne die huwelik verlief raak en lief raak vir ‘n ander
persoon buite hulle huwelik en seks sou hê, is dit heel moontlik “eros” waarvan
ons hier praat. Die ander liefdes tipes sou mos nie dieselfde vrug afgee binne
‘n huwelik nie? As ek iemand liefkry met ‘n agape liefde en phillia liefde al
is dit buite my huwelik sou dit steeds uitloop op owerspel? Sou WARE Goddelike
liefde só iets doen? En as ons sê dat dit wellus en seks is wat die oorsaak is
– seks en wellus spruit mos uit eros liefde nie die ander liefdes tipes nie?
Miskien verstaan ek die HELE EROS-LIEFDE-KONSEPT TOTAAL verkeerd! Miskien is my vrae nie
so relevant soos ek dink nie. Miskien redeneer ek sonder om regtig daaroor na
te dink. Ek hoop iemand lees hierdie skrywe en dink nugter daaroor na en kan na my toe terugkom
en sê: “ Dis nie heeltemal so kompleks as wat jy dit maak nie! Dis actually
heel eenvoudig…die Woord van God sê…”
No comments:
Post a Comment