Ek is nie 'n groot Master Chef-fan nie. Ek dink dis tydmors om so te le en niks doen en dan nog boonop honger te raak en belustig vir al wat 'n lekker-ding is om te eet, nie. Maar vannaand was anders. Dis |Master Chef JUNIOR. My vrou soebat my omtrent om net ietsie te kyk. Ek moet bieg ek het al so nou en dan met die een oog en oor gevang wat op die JUNIOR edition aangaan en wat my elke keer opgeval het is die supercool manier van die judges om met kinders te werk. Hulle kritiek was altyd opbouend al was dit negatief... Hmmm - Kan mens negatiewe kritiek gee en steeds iemand daarmee opbou, wonder julle? Kyk bietjie hierdie ouens - hulle is meesters daarmee. Ek love hulle (soos my dogtertjie altyd se). Dit laat my altyd wonder hoekom ons in die werklike lewe nie die selfde kan doen nie. Okay, verseker is daar 'n sekere 'skill' daarby betrokke maar ek dink dis defenitief aanleerbaar. Dink net hoe ons mense om ons en ons eie lewens daarmee sal verander. Dis vir my so 'n goeie illustrasie wat in 1 Korintiers 4:14 "Ek skryf nie oor hierdie dinge op hierdie trant om julle sleg te laat voel nie. Ek doen dit eerder om julle reg te help, want ek het julle lief soos iemand sy eie kinders liefhet".
En toe kom die tweeling sustertjies teen mekaar te staan en die een of die ander moes ongelukkig die aftog blaas. Isabella wen en Sophie gee twee sinnetjies wat omtrent elkeen 'n traan laat pik - ek ingesluit. Die vraag aan haar was: "Wat was die mees ongelooflikste oomlik gedurende jou tyd op Master Chef Junior? Die twaalfjarige se antwoord was eenvoudig: "This moment right now where my gorgeous sister is one of the two finalists of Master Chef Junior" - is dit nie awesome nie? Nie 'n oomblik die spotlight op haar self nie maar na buite. Finominaal! Ek wil haar ouers ontmoet - hulle het dit reggekry om 'n kind groot te maak wat die wereld 'n beter plek maak!
'n Cooking groete!
Klipkop dot kom is 'n dagboek site. Dis vir enige iemand wat afrikaans en engels magtig is of vir die wat "Google translate" kan gebuik. Dis eintlik vir mense wat RERIG niks het om te doen nie en nie lus het om te dink nie. Hier kan jy lees wat 'n ander ou (ek) dink! Christo A. (Alias KLIPKOP)
Wednesday, 31 October 2012
Tuesday, 30 October 2012
'n Boesman hart
Ek moes net eenvoudig hierdie met julle deel. Ek het lanklaas iets so eerlik en eg gehoor soos die stukkie.
Die Boesman se Onse Vader
Geskryf deur:
PJ vd Heever
Onse Vader wat doer erens ver bo in die bloulug is,
diese warm dag wil ikke op myse kniege tot U kom bid.
Lat U se koningskap tog by ons kom en
lat U se grootheid hier tissen ons staan gemaak kan worre
en lat U se wil gebeure doer bo by U rond,
net so gebeure hier by ons Boesm'land se grond
Gee ons vandag onse tjai-impie kos en vergewe ons,
onse sondige gemors sos ons die ander minse sin vergeef.
Here laat die kwaaddoen goeterse wye draaie om ons loop
en gee tog samblief Here lat die duwel nie naby kom nie.
Die minse doen sulke lelike goeters teenoor my
maar help tog samblief dat ik dit nie sal raak sien nie.
Dan sal U mos ok nie myne raak sien nie.
U is vir altyd en vir altyd.
Amene my groot Kroon.
Is dit nie uitstekend nie? Ek wonder wie het al ooit so openhartig en met eerlike taal tot die "Groot Kroon" gebid? Ek dink God verkies hierdie tipe eenvoud. Bring net jouself na die gebedsvloer toe en los al jou fensie woorde vir die dominee en die kerkraad!
Groetnis!!
Monday, 29 October 2012
Wat en wie is "hart"?
Die Hart = orgaan wat bloed deur jou liggaam pomp
‘n Hart = ook bekend as jou siel en gees en gemoed.
My Hart = dit wat binne jou diepste dieptes aangaan, dit wat jý
dink, jy is die enigste een wat van weet.
Ek dink soms dat ons te veel karring met die hele kruisiging
en bloed en marteling en wonde en selfs die opstanding van Jesus. Kom ons los
dit bietjie daar. Soos die engelsman sê: It's a given. Dis feite, dit het
gebeur, finish en klaar. Kom ons vergeet sommer van die groot “hoekom’s” ook.
Hoekom het Jesus gesterf, wat is die rasionaal daaragter? Weereens - dis 'n given. Óf, jy glo dit in jou
hart en is só seker daarvan as van die lessenaar waaragter jy sit of die stuk
gereedskap wat jy in jou hand vas hou. ÓF.... jy glo dit eenvoudig nie.
Afgesien, dan van wat jy glo, as dit is in Jesus – “stop
focusing on the cross for a while” . En nou nadat jy van jou stoel af geval het
en dalk op jou knieë geval het – “Get sommer busy knowing what He stands for –
só op jou knieë”. Read what He said to his Father, God and learn from their
communication (John 17). Leer God ken vir wie Hy is. Wat Hy doen en hoe Hy dit
doen. En mees belangrikste hoe skakel ek by Hom en Sy planne in? Waar pas jy - die
legkaartstuk, by die groter prentjie in. Nou die million dollar question – HOE?
Hóé leer ek Hom ken???
My gevoel is: Hou dit so eenvoudig as moontlik, yep, die basics
is belangrikste. Praat gereeld met God. Sommige mense noem dit “bid”. Doen dit
in totale stilte en doen dit dan hardop. Ja – praat hardop. As jy regtig moeite
gedoen het om jouself in ‘n stil plek af te sonder, sal niemand jou hoor en
dink jy is kenz nie. Wees oop vir sy Gees. Moenie probeer om Sy stem te hoor
nie, luister eerder net ‘n bietjie na alles rondom jou, al is dit net die
stilte. Ek was al baie verbaas hoe hard God kan praat met stilte. Redirect dit wat
jy hoor en bring dit - nie na jou ore nie, maar na jou hart. Soms loop jou hart
oor van SY planne maar jy het beter planne van jou eie. Die mees suksesvolste
besluite wat ek al gemaak het, het as hartsgedagtes by my opgekom. Selfs al het
die besluit nie naastenby sin gemaak dan nie. Wees oop om te ontvang, veral
vanaf God en moenie skaam of suinig wees om te gee nie. My vriendskap met God
is neverending maar dis nog ver van volmaak af. Ek leer elke dag nuwe karakter
eienskappe van Hom. Om te sê Hy is grooter as groot en grooter as die heelal is
eintlik 'n understatement en ‘n cliché. Om die waarheid te sê dink ek nie mens
moet jou kop oor die grootheid van God breek nie. Volgens my is God so groot
soos jou hart. Ek luister vir my hart omdat ek glo God praat met my deur my
hart.
Maar nou het die coin ook ‘n flipside: Die mens se hart is
ook bedrieglik sê God in Jeremia 17:8 en Salomo sê dat mens moet versigtig wees
wat in jou hart omgaan want dit bepaal jou hele lewe. (Spreuke 4:23). En nog sê
hy waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor (Êrens in Mattheus) (12
vers 34 ek dink).
Jou hele menswees is vervat in jou hart. Hoe jy die lewe benader
is opgesluit in jou hart. Jou gesindheid le in jou hart. Jou gesindheid om te sê
“ek stel belang of nee-wat ek stel nie belang nie”. Met 'n hart soos Dawid fell
ek reuse en ruk leeus aan hulle baarde rond. Jou HART, dís waar jy connect met
Hom wat 'grooter' as alles is. Dit wat in jou hart aangaan weerspieël direk wat
God in jou oë is en watter soort vrienskap verhouding jy met Hom het. As ek
owerspel in my hart het maar elke dag daarmee stry en dit verag, sien God dit
raak. Soos Dawid. Berou kom uit jou hart. God sien berou nie as 'n uiterlike
manifestasie en trane en ander toertjies en stront nie. Hy sien hoe jou hart skeur
en hoe jou hart snik van “ek is jammer Here…, ek ís”. En as jou hart ophou klop
sterf jy maar dit wat die “hart” aan jou voorsien het, bly vir ewig lewe!
Blessings uit my hart!
Weer een van daai dae...
Gister was een van daai dae. ‘n Dag wat van die oomblik dat
ek my oë oopgemaak het, onheil voorspel. Ja, ek het ‘n “mood” gehad! Lus om my
stem te laat hoor en my misnoë met alles en almal uit te spreek. Elizma en die
kinders moes bont staan om my nie verkeerd op te vryf nie. So-by-so dat ek te
skaam was om dit aan God te noem as my dag se swakheid. Steeds dink ek Hy gaan
kwaad wees. Maar ek vergeet hoe baie Hy al my lewe tot ’n halt geroep het en my
net in ‘n ander rigting gedraai het. Ek loop soos ‘n leeu met ‘n seer onderstel
rond en soek ‘n stil plekkie. Net 5 minute in gesprek met Hom en ek weet ek sal
okay wees. Ek glip gou by die spaar kamer in, en maak die deur toe en sak op my
knieë. Twee minute, toe’s als verby. Ek weet die challenges gaan my klaar maak
vandag (en dit het!) maar ek het ‘n snaakse rustigheid daaroor wat beter geraak
het soos die dag verloop.
Vroe-oggend gesels ek met tannie Koegelenberg by die apteek
se deur. Haar hele manier straal mos rus-en-vrede uit. Sy het by my deur verby gestap
op die oomblik toe ek dink ek gaan dit
dalk nou verloor. Die 2 minute geselsie was al wat ek nodig gehad het om my te
laat dink, “chill, jou dinge is nie so erg nie”. Deur die loop van die oggend
sien ek dat ek nog ál die psigiatriese medisyne van ‘n klompie pasiente in ‘n klein nedersetting, naby Moerlandspan, moet
verpak. Hoe is dit moontlik dat enige iemand wat dáár bly OOIT psigiatriese
afwykings kan hê? Dis dan so mooi daar, tussen al die granietklippe, so
rustig? Ek raak sommer weer opstandig,
want hoe gaan ek nou al hierdie goed gedoen kry voor ek moet waai? My telefoon
maak ‘n email geluid! Dis ‘n boodskap van
Pierre. ‘n Soldaat in Irak, ‘n peacekeeper en ‘n man met ‘n hart vir God. Sy
boodskap noop my om terug te skryf en weereens, in 2 minute se tyd, net in een
laaste sinnetjie, eer aan ons Koning te bring. Vir die tweede keer vandag
herhinder Hy my weer deur mense naby aan my – kom net weer terug hier waar jy
was, hier by My! Gee My net gou weer erkenning en Ek stuur jou voort.
Saal A het middels aangevra wat slegs onder streng toesig
mag uitgereik word. Ek sal dit seker vir hulle moet vat en ai, daar is dan
hoeka nie tyd nie. Ek loop toe maar met die parceltjie soontoe. Hulle het sopas
‘n pasiënt gekry wat so geweldadig en van sy trollie af is dat die polisie gesukkel het om hom vas te
hou vir sy kalmeer inspuiting. Hy moet nou in ‘n spesiale reinforced kamer
toegemaak word waar hy eers moet afkoel.
Dis een van daai kamers waar die vensters dikker as die Bank s’n is. Maar selfs
met die inspuiting klaar in sy agterent, skop hy die deur amper uit sy
skarniere uit. Die werkswinkel se manne daag gou daar op en sit hout balke voor
die deur om hom net binne te hou sodat hy nie die ander pasiënte en die
personeel kan verniel nie. Nou moet die vroue suster, volgens wet, elke sekere
hoeveelheid minute sy observasies, soos sy bloeddruk ens. doen en ek dink – dis
mos malligheid? Dis mos nie ‘n vrou se werk nie? Enter – die matrone van die Hospitaal. John.
Ja hy is ‘n man en nee, alle matrones is nie vrouens nie. John en ek relate
altyd lekker met ons gekrokte knieë. John is ‘n kickboxer en ‘n goeie een
daarby! Hy bied aan dat hy eerder by die willeman sal ingaan en sy observasies sal doen. Ek dog, hier moet
ek bly, want hier kom ‘n ding.
John haal die houtbalke voor die deur weg en stap rustig die
“strongroom” binne. Ek dink so by myselwers, “willeman – jy moet maar jou
wildgheid laat staan want hier word jy gefloor vandag”. John se aksies en
woorde daarna sal ek nooit vergeet nie: “Is jy okay meneer? Bring die sleutels,
die man is dan nog geboei, ‘n mens kan nie so geboei sit en eet nie. Bring sy
kos. Is jy honger meneer? Kom, ek gee solank vir jou kos” en hy begin die
willeman te voer soos ‘n baba met ‘n lepel. Die sleutel arriveer en hy sê in ‘n
sagte kalmerende stem: “ Ek gaan jou nou losmaak, onthou asb dat ek nie ‘n vrou
is nie, so raak nou rustig anders sal ek jou
ongelukkig weer moet vas maak. Verstaan jy wat ek vir jou sê meneer?”
Willeman sit en kou sy kos, so mak soos ‘n lammetjie. Ek draai om en in plaas
van om teleurgesteld te wees omdat ek nie ‘n bietjie action gesien het nie, is
ek verstom. Verstom oor hoe selfs die wildste en heel moontlik besete mens, met
kalmerende woorde rustig kan raak. Baie dinge kom in my gedagtes op. Dinge soos
hoekom het ek die geweldadige uitkoms hier as die eerste manier van optrede
gesien? Is dit dan ‘n man-ding? Wat sou gebeur het as John in daai “strongroom”
in gestap het met ‘n mucho-houding en bietjie sy kickboxing geoefen het? Selfs
as iemand as jou vyand voorkom kan die teenoorgestelde benadering vir almal
soveel meer beteken. Niemand het hier seer gekry vandag nie. Die vroue susters
voel veilig én
die hospitaal se infrastruktuur oorleef nog ‘n dag! Dit alles deur ‘n man wat
gekies het om ‘n situasie op ‘n kalm manier te hanteer sonder om sy manlikheid
voor die saal vol susters en nurses te bewys. Daar bestaan geen twyfel by my
dat John hierdie willeman sou kon “beheer” as dit moet nie, maar hy het nie.
Dis so asof hy seker was dat sy “beskermings meganisme” of secret weapon, binne in hom altyd daar is vir ‘n noodgeval
maar dat dit ook die laaste uitweg sal wees. Well done John! Jy het Spreuke
15:1 vandag in lewende wyse gedemonstreer!!
Dis net na 12hoo en nou moet ek wikkel. Ek moet nou by die kliniek
uitkom om my regte werk ook darrem op datum te hou. Om by die hospitaal af te
los en my eie werk in te pas, kos nogal balans! Ek spoed voort en skarrel om
alles te onthou. As my pen nou val is ek in my glory in laat. Ek haat so ‘n
gejaag. Marlene, die sonograaf stap verby en noem sommer net dat sy gesien het
ek was by ‘n mannekamp en dat dit baie lekker gelyk het. Sy het dadelik my
aandag en om een of ander rede is tyd nie nou meer belangrik nie. Ek vra: “
Hoekom vra jy?” Sy begin vertel van haar man se Mighty Men Ondervinding ‘n paar
jaar terug. En daar gesels ons te lekker. Sy loop daar weg met my wat belowe om
haar te sê wanneer Harvester weer ‘n
Mannekamp hou sodat haar man kan saamgaan!
Namiddag na werk, is dit warm. Lekker Vredendal-warm. Ek
stop by Marinda om die tweeling op te laai en omdat ek tyd het lê ek vir die
eerste keer in baie jare weer op my rug op die gras. Sy het seker van die
mooiste grasperke wat ek ken. Die kinders dink natuurlik dis “open season” en
beklim my omtrent. Selfs Kadri se buletjie, Dirk, is bo-oor my. Kan dit nie
maar elke middag so wees nie? Ek dink hoe blessed ek is om te kan doen wat ek
nou doen en die hoeveelheid geluk in my hart kan nie gemeet word nie. Ja, dis
uiteindelik somer en dis seker die eerste dag in die nuwe seisoen wat ek dit
goed dink om bietjie lyf nat te maak in die swembad sodra ons by die huis kom.
Dié
dat Carla amper nie kon glo toe ek haar vra of sy nie dalk wil swem nie.
Hierdie hele winter moes sy net hoor hoe koud die water is en hoe koud dit
buite is terwyl sy so graag wou swem. Selfs
Issabella en HW is in die water terwyl ek nie regtig genoeg moed bymekaar kon maak vir die kouete
nie. Ek is verlief op somer. Ek dink - vannáánd
gaan ek braai en terugsit en die stiltes van Vanrhynsdorp geniet. Die vlamme
vertel weer die dag se gebeure... Ek is vandag goed gecoach. Deur vier
verskillende mense wat niks met mekaar te doen het nie. Ek was gewys dat selfs
al drift ek weg, dat God ‘n onverklaarbare manier het om Sy grace te laat val,
op tye wat jy gedink het dis onmoontlik
om ooit genade te ontvang. Dan, tydens daardie oomblike van onbegryplike grace,
kan jy nie anders as om saam te praat en te erken wie REGTIG in beheer is, en
te erken dat Hy ‘n awesome God is nie!
Lank, lank gelede...
Sjeeesh, ek sien nou dat ek in April laas iets hier gesribbel het. Ek moet bieg, die droogte waardeur ek gegaan het sou die 7 maer jare na 'n natjaar laat lyk het. Ek gaan egter nou weer probeer. Sedertdien het daar taamlik baie gebeur en ek voel lus om weer my gedagtes op skrif te sit.
"Verder ekke ek doen dardie Facebook-deng" maar dis vir my moeilik om status updates te gaan herroep as dit moet. So, die blog-ding is beter daarvoor. Dit bly kronologies en alfabeties en maklik opsoekbaar. So kom ons try weer en sien wat gebeur!
"Verder ekke ek doen dardie Facebook-deng" maar dis vir my moeilik om status updates te gaan herroep as dit moet. So, die blog-ding is beter daarvoor. Dit bly kronologies en alfabeties en maklik opsoekbaar. So kom ons try weer en sien wat gebeur!
Subscribe to:
Comments (Atom)